TeeTracker
TeeTracker is 'n aanlyn stelsel vir meerdaagse gholftoere. Die punte, die pare, die afslaanroosters en die ranglys werk outomaties, en u bestuur alles vanaf u selfoon op die baan. Hierdie bladsy verduidelik wat dit doen en hoe 'n toer opgestel word.
Die stelsel is gebou vir die ATKV-Klein-Kariba Bosveld Gholftoer en het in Mei 2026 sy eerste volle toer geloop: 252 geregistreerde spelers, vier rondtes oor vier bane, in groepe verdeel, met twee-balspanne. Alles wat voorheen in Excel bygehou is, het deur die stelsel geloop.
Dit is nie 'n gholfklub se stelsel nie. Dit is spesifiek vir 'n toer waar dieselfde spelers 'n paar dae lank saam speel, op verskillende bane, met 'n ranglys wat oor al die dae heen tel.
Die demonstrasie hieronder loop op die werklike 2026-toer se data. Daar is geen wagwoord nodig om rond te kyk nie: die aanmeldbladsy het 'n toeskouerknoppie wat die regstreekse ranglys met een klik oopmaak.
U finale spelerlys word uit u eie sigblad ingevoer: naam, voorgee, klub, selfoon, e-pos en hemp-grootte. Spanne, groepe en twee- of vierballe word daaruit opgebou.
Die rooster word outomaties getrek, met pare wat vermy dat dieselfde spanne dag na dag saamspeel. Kanonskoot of gestapelde afslaantye, per groep en per dag, met 'n drukbare PDF vir die baan.
Punte word per span en per speler ingevoer, met die formaat van die dag ingebou, byvoorbeeld beterbal-stableford. Die skerm wys wie se kaarte nog uitstaan, sodat niemand vergeet word nie.
Span- en individuele ranglyste, vir 'n enkele dag of oor die hele toer, met 'n daaglikse uiteensetting. U skakel die openbare ranglys self aan en af.
Aanmelding by die tafel, met hemp-groottes bestel teenoor uitgegee en 'n lewende voorraadtelling per grootte. Dit keer dat 'n grootte oorbespreek word.
Gemiddeldes per baan en per groep, beste rondte, beste punte, en 'n uitvoer na sigblad vir die prysuitdeling en vir u eie rekords.
Elke verandering aan 'n punt word gestoor met wie dit gedoen het en wanneer. As iemand by die prysuitdeling vra hoe 'n telling verander het, is die antwoord op die skerm.
Die hele stelsel is in albei tale beskikbaar en elke gebruiker kies self. Dit werk in enige blaaier op 'n selfoon of tablet, sonder om iets te installeer.
Elke persoon kry sy eie aanmelding, en die stelsel wys vir elkeen net wat by sy rol pas.
| Rol | Wie | Wat hulle kan doen |
|---|---|---|
| Administrateur | U | Alles: spelers, spanne, bane, rondtes, rooster, punte, gebruikers, en die aan- en afskakel van die openbare ranglys. |
| Organiseerder | U toerspan | Punte invoer en regstel, die rooster sien en druk, spelers by die tafel help, hul groep se spanne bestuur. |
| Speler | Deelnemers | Sy eie kaart en posisie sien, en waar u dit toelaat, sy span se punte op die baan invoer. |
| Toeskouer | Familie en gaste | Die regstreekse ranglys, en net wanneer u dit aangeskakel het. |
Agt stappe, en die meeste van die werk is aan ons kant. Die tye hieronder is gemeet vanaf die eerste afslaan van die toer.
U aanvaar die kwotasie skriftelik en stuur die bestelnommer. Ons stuur die faktuur vir die deposito dieselfde dag. Niks anders begin voor hierdie stap nie.
Ons rig u oord op die stelsel in met u handelsmerk, en vang elke baan in: die par en die voorgeegraad van elke put, die rondtes, die formate en die afslaantye. Ons het net 'n foto of 'n PDF van elke baan se scorecard nodig, ons tik dit self oor.
In u eie sigblad, net soos dit is. Ons pas by u formaat aan, dit is nie u werk om dit oor te tik nie. Die kolomme wat help, staan hieronder.
Ons voer die spelers en spanne in, kontroleer elke voorgee en elke span teen u lys, en stuur vir u 'n skakel om self deur te kyk voordat enigiets gedruk word.
Vyf-en-veertig minute, aanlyn, vir u en die organiseerders wat op die dag gaan werk. Aanmeld, die rooster trek en druk, punte invoer, 'n fout regstel, en die ranglys aan- en afskakel. U kry ook 'n kort geskrewe gids in Afrikaans.
Die afslaanrooster vir dag een word getrek en deur u goedgekeur, en ons speel 'n paar toetspunte deur en vee dit dan skoon. Daarna word niks meer verander nie.
Meld enige probleem per WhatsApp of e-pos en ons los dit op na ons beste vermoƫ. Dit is by die fooi ingesluit en dit is nie 'n kaartjiestelsel nie. Die stelsel word op afstand ondersteun; die organiseerders bly deurgaans in beheer op die baan.
Finale ranglys, die uitslae vir die prysuitdeling, en 'n afskrif van al die data vir u eie rekords. Volgende jaar se toer begin met dieselfde spelers reeds op die stelsel.
Vier dinge, en u het waarskynlik drie daarvan reeds.
| Wat | Wanneer | In watter vorm |
|---|---|---|
| Baanbesonderhede | Met die opstel | Die scorecard van elke baan, as foto of PDF. Ons haal die par en die voorgeegraad van elke put daaruit. |
| Organiseerders | Met die opstel | Naam, e-pos en selfoonnommer van elkeen wat punte moet kan invoer of die rooster moet kan verander. |
| Handelsmerk | Met die opstel | Die oord se logo en die toer se logo, verkieslik PNG met 'n deursigtige agtergrond. Dit verskyn op die stelsel en op elke drukstuk. |
| Speler- en spanlys | Ongeveer 'n week en 'n half voor die toer | Excel of CSV. Een ry per speler, en twee spelers wat dieselfde spannommer deel, is 'n twee-bal. |
Stuur die lys eerder vroeg en onvolledig as laat en perfek. 'n Konsepweergawe laat ons die invoer toets terwyl daar nog tyd is om foute te vind, en die laaste veranderinge kan tot die aand voor die eerste afslaan ingaan.
Die spelerinligting wat u aan ons stuur, word net vir u toer gebruik. Dit word by 'n erkende diensverskaffer gehuisves, dit word nie gedeel, verkoop of vir bemarking gebruik nie, en na afloop van die toer kry u 'n afskrif in 'n formaat wat u self kan hou. Vra u dat dit uitgevee word, dan word dit uitgevee.
Die stelsel loop per toer. Tussen toere word die platform van die bediener afgehaal en 'n volledige, geverifieerde rugsteun word gehou, wat beteken dat 'n oord buite toernooiseisoen geen hostingkoste dra nie. Op 'n bevestigde bespreking is alles binne twee werksdae weer aanlyn, met die vorige toer se data soos dit was.
Martin Meiring, InstantApp Solutions. Bel gerus direk, of stuur 'n e-pos en ons wys u die stelsel in twintig minute soos dit by 'n regte toer gewerk het.